Gebruikerskode:
Wagwoord:

Welkom by die Bloemfontein 4x4-Ekoklub se webwerf.

Die Ekoklub beywer hom om 4x4-aktiwiteite op ‘n verantwoordelike manier te bevorder. Daar word derhalwe op die natuur en die bewaring daarvan gefokus. Viertrekvoertuie word slegs as hulpmiddels gebruik om by die vele mooi en interessante bestemmings in Suid-Afrika en ons buurlande uit te kom. Omdat klublede egter dikwels uitdagende viertrekroetes aanpak, is kennis van die voertuig en kundigheid ten opsigte van die gebruik daarvan `n voorvereiste.

Klublede se kennis aangaande die natuur en viertrekvoertuie en -toerusting word op `n gereelde basis deur middel van opleidingsgeleenthede, informele lesings en die klub se nuusblad Eko Info, opgeskerp.

Die Ekoklub reël jaarliks verskeie kort uitstappies asook `n paar langer safari`s. Die kort uitstappies maak dit vir lede moontlik om gedurende `n naweek of `n langnaweek 4x4-bestemmings te besoek terwyl die langer safari`s gewoonlik oor 10 – 14 dae of langer strek en dikwels tydens skoolvakansies plaasvind. Die klub reël ook maandelikse sosiale geleenthede waar lede gesellig saam verkeer en kennis en ervarings met mekaar kan deel.

Die Klub is ook betrokke by gemeenskapsprojekte waar uitgereik word na diegene wat weens omstandighede nie normaalweg by viertrek- of natuuraktiwiteite betrokke kan raak nie. In diè verband word onder andere gestremde persone op naweek- of daguitstappies geneem. Lede is ook betrokke by die jaarlikse Skyrun wedloop en die CAR voëlpadtelling.

Die Bloemfontein 4x4-Ekoklub is deur sy konstitusie daartoe verbind om ‘n positiewe bydrae te lewer om die omgewing te bewaar en daarom onderwerp klublede hulle aan die wetgewing en regulasies wat geld in die gebiede wat hulle besoek en is hulle ook betrokke by omgewingsopleiding en -bewusmaking.

Die Voorsitter

Tuis | Kontak Ons | Web Uitleg

Copyright www.bloemekoklub.co.za 2007